Wind verfomfaai Wes-Kaap


Dié woonwa is gister in Kay’s Woonwapark in die Strand erg beskadig toe die sterk wind van die bome in die park omgewaai het. Houthutte in die park is ook vernietig en die sowat 100 gesinne wat daar woon moes die park ontruim.


Die stormsterk suidoostewind wat sedert Sondag oor die Wes-Kaap gewoed het, het die lewe van ’n sesjarige meisie geëis en sowat 100 gesinne ontheem.

Me. Kayisa Maqhetshabe se dogter, Anathi, is dood toe ’n groot bloekomboom gisteroggend omstreeks 02:20 op hul huis op die plaas Broadlands Stud Farm buite Somerset-Wes geval het.

Mnr. Willie van der Weshuizen, die plaas se eienaar, het gesê Anathi is onder die bakstene vasgevang en sy het vermoedelik versmoor. Paramedici het lank gespook om haar by te bring.

By Mosselbaai in die Suid-Kaap is vier vissermanne dood, een beseer en nog een vermis nadat ’n vistreiler gistermiddag in rowwe seetoestande omgeslaan het.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Mosselbaai was die golwe 8 m hoog en die windspoed 57 knope (108 km/h).

By Kay’s Woonwapark in die Strand is bome van omstreeks 01:30 deur die wind neergevel en teen gistermiddag omstreeks 15:00 was minstens tien van die park se houthuise beskadig.

’n Handjievol inwoners het voor die hek gestaan terwyl die polisie hulle gehelp het om die park te ontruim.

Me. Anita Walker, die park se onderbestuurder, het gesê die sowat 100 gesinne wat daar woon het in ’n nabygeleë saal, by familie en vriende, of in tente by die aangrensende kampplek onderdak gevind.

Die wind het die dak van Strand Sekondêr se skoolsaal met ’n reuse-gat gelaat. “Jô, regtig, dit het geklink soos ’n bom,” het mnr. Jan Vass, die skool se opsigter wat op die skoolterrein woon, gesê.

Mnr. Nolan Thomas, adjunkhoof, het gesê hul matrieks sou Woensdag in die saal met hul eindeksamens begin. Hulle het egter klaskamers beskikbaar hiervoor, dus sal die eksamen nie ontwrig word nie.

Ontwortelde bome, afgewaaide sinkdakplate en beskadigde huise het inwoners van die Boland laat bontstaan terwyl die metropool onder ’n sterk suidoostewind en hael- en donderstorms deurgeloop het.

Sowat 50 ontwortelde bome en takke was oor die Stellenbosch-gholfklub se speelvlak gestrooi.

In Jamestown buite Stellenbosch het mnr. Stanley Februarie se familielede en bure naarstiglik die plafon van sy huis in Tioga*straat aanmekaargeslaan nadat ’n deel van die kombuis en leefarea se dak weggewaai is. Volgens provinsiale brand-en-redding het hulle verskeie oproepe uit die Strand ontvang oor soortgelyke skade.

Die Kaapstad-stadion in Groenpunt kon ook nie die sterk wind vryspring nie. Drie van die panele wat die buitenste fasade van die stadion moet vorm, is afgeruk.

Die Mosselbaaise seedrama het hom omstreeks 12:10 afgespeel toe ’n vistreiler van die Seavuna-vismaatskappy in die moeilikheid beland het toe dit blykbaar die hawe wou binnekom.

Rowwe seetoestande het die NSRI verhoed om die see binne te gaan en ’n private helikopter is ontbied om drenkelinge in die see uit te wys. Die boot het naby Diazstrand omgeslaan en een visserman is uit die see gered.

Die oorledenes se families is laatmiddag by die Seavuna-kantore in die Mosselbaai-hawe van hul geliefdes se dood in kennis gestel. Die lyke sal vandag by die Mosselbaai-lykshuis uitgeken word, het kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, gesê.

Intussen het die NSRI bootvaarders gewaarsku om nie op die see uit te gaan nie weens ’n stormsterk wind van 130 km/h wat van Kaapstad tot by die Ooskus waai.