PDA

View Full Version : NP is uit sy broek onderhandel



Lulletje Rozewater
01-11-2010, 04:47 AM
Pieter Mulder

Ek was by die onderhandelinge en glo dat Roelf Meyer en sy span beslis beter vir minderhede kon onderhandel het.
Roelf antwoord hierop deur te vra wat die gevolge sou wees as Suid-Afrika nie verander het nie. Dit is ’n vals argument.
Al die partye by die onderhandelinge het saamgestem dat daar verandering moet kom. Die groot verskille was die onderhandelaars se vertrekpunte.
Roelf se onderhandelingsopdrag het gekom van die 1989-verkiesing en die 1992-referendum waar die Nasionale Party ’n mandaat gekry het om “magsdeling” en “groepsbelange” te onderhandel. Die NP-verkiesingsmanifes het uitgespel hoe groepe beskerm sou word.
By die onderhandelinge het ek geen teken gesien dat Roelf bekommerd was oor groepsregte nie.
Ná die onderhandelinge het hy in Noord-Ierland erken dat hy nie meer volgens groepe gedink het nie. Sy vertrekpunte was dieselfde as die ANC s’n.
Donald Horowitz, ’n Amerikaanse kundige, het in 1991 in ’n boek oor Suid-Afrika gewaarsku dat as ’n eenvoudige meerderheidsregeringstelsel ingestel word, sonder die moderne beskerming van minderhede, verkiesings slegs ’n sensus sal word oor watter ras of etniese groep die grootste is.
Ná so ’n sensus-verkiesing sal hierdie groep alleen regeer en alle ander minderhede permanent uitskakel.
Dit is my klagte teen Roelf en presies wat in Suid-Afrika gebeur het.
Hoe goed ons vandag met ander lande vergelyk, is Roelf se tweede argument.
Dit is ook ’n vals argument omdat hy nie appels met appels vergelyk nie. Roelf se mandaat was om na NP-kiesers, as ’n toekomstige minderheid, se belange om te sien. Daarom moet ons vra hoe minderhede se grondwetlike posisie in Suid-Afrika met minderhede in soortgelyke lande vergelyk. Uiters swak, is die antwoord.
Die naaste wat die Grondwet aan groepsregte kom, is in artikels 31, 185 en 235. Hierdie artikels het ons as latere VF, los van Roelf, met Mbeki en Zuma onderhandel.
Die moderne tendens in die wêreld is dat grondwette vir minderhede voorsiening maak.
Spanje het ’n federasie waar die Baske en Katalo-niërs se taal die amptelike taal in sekere provinsies is.
België en Estland het eie rade vir kultuurgroepe waar besluite oor onderwys, taal en kultuur deur hierdie groepe geneem word.
’n Eenvoudige suksestoets is om te kyk waar die ANC- en NP-ondersteuners vandag is. Die ANC-ondersteuners is in al die magsposisies en die NP-ondersteuners sit in die buiteland of sukkel om werk in Suid-Afrika te kry.
Dink net hoe sou Suid-Afrika presteer het as ons nie ongeveer 1 miljoen kundiges aan die buiteland verloor het nie; as regstellende aksie nie van ons beste jong mense uit die werkplek hou nie.
Kort voor die einde van die onderhandelinge vertel Roelf opgewonde aan ons dat die ANC ingewillig het tot ’n oorgangsregering vir vyf jaar met enkele NP-ministers steeds in die kabinet.
My broer Corné, wat op daardie tydstip ’n nuwe babadogter ryker geword het, se reaksie was: “Roelf, oor vyf jaar verval jou oorgangsregering en regeer die ANC alleen. Dan is my dogter vyf jaar oud. Wat bied jy aan haar in Suid-Afrika vir die res van haar lewe?”
Corné se dogter was slegs twee jaar oud toe die NP uit die regering van nasionale eenheid onttrek het.
NP-kiesers het skielik agtergekom hoe magteloos minderheidsgroepe in die nuwe bedeling was en hoe min daar vir hulle onderhandel is.
Die verdoemendste oordeel oor Roelf kom van Cyril Ramaphosa, die ANC se hoofonderhandelaar.
In ’n BBC-onderhoud beskryf hy ’n ANC–NP-partytjie aan die einde van die onderhandelinge: “Roelf ... was quite happy, he was quite jovial – and I kept wondering whether I would have been as happy as he was if I was in his position – having finally given in, in the way that they had.”
Pieter Mulder is leier van die VF-Plus.


http://www.rapport.co.za/Content/Weekliks/Nuus/2317/75cd049e17c7402dbf6587ef85e89f59/26-12-2009-03-51/NP_is_uit_sy_broek_onderhandel