PDA

View Full Version : Veteraan-joernalis Franz Kemp sterf in Jhb



The Lawspeaker
03-07-2011, 04:06 PM
Veteraan-joernalis Franz Kemp sterf in Jhb

http://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/1146/2ed9afc7078b4290b6f8d6e1ae9faca6.jpg
Die bekende veteraan-joernalis en skrywer Franz Kemp (72) wat gisteroggend vroeg in die Flora-kliniek se waakeenheid in Johannesburg dood is.

“Franz Kemp was by uitstek ’n koerantman se koerantman. Hy was die joernalis vir die groot storie,” het mnr. Ton Vosloo, voorsitter van Naspers, gister in ’n huldeblyk aan Kemp (72), wat gisteroggend in Johannesburg dood is, gesê.

Dié bekende veteraan-joernalis en skrywer wie se naam dekades lank derduisende kere in druk verskyn het, is gisteroggend vroeg in die Flora-kliniek se waakeenheid in Johannesburg dood.

Leukemie is in November voorverlede jaar by Kemp gediagnoseer.

Volgens sy vrou, Reinet, was hy ’n paar dae by die huis ná ’n chemo-behandeling toe hy ’n longinfeksie opgedoen het.

Sy het gesê haar man het nie gely nie.

Hulle het ‘n wonderlike laaste jaar saam gehad, het sy gister gesê.

“Toe kanker by hom gediag*noseer is, het ons gedink dat dit vinnig klaar sou wees, maar toe kry ons ’n ekstra, wonderlike jaar,” het sy gesê.

Joernalistiek en reis was Kemp se passie.

Kemp het ná sy aftrede vir 60 dae in Suid-Soedan gaan help om ’n TV-stasie se nuusdiens op die been te bring.

Hy het daarna 60 Dae in die Suid-Soedan, ’n reisverhaal, gepubliseer.

“Franz het ’n koerantman in murg en been gebly. Hy het nie belang gestel in lessenaar-jobs nie.

Hy het ons koerante (Beeld en Rapport) met onderskeiding gedien, onder meer in Washington en Londen en toe sy hoofloopbaan as die ster van Huisgenoot,” het Vosloo gister gesê.

Volgens Vosloo was Kemp nie bang vir ’n taai storie nie.

“Hy het daarop gedy. Sy grafskrif kan maklik wees ‘Drukkersink was in sy bloed, maar sy hart het plek gehad vir die geringstes’.

’n Mens se meegevoel gaan uit na sy vrou en ewe beminde joernalis, Reinet.”

Vosloo het in 1956 en Kemp in 1957 by Die Oosterlig (nou Die Burger Oos-Kaap) begin werk.

Kemp was net voor sy aftrede die Johannesburgse burohoof van Huisgenoot.

“Hy was altyd positief,” het die skrywer Dana Snyman gesê.

Kemp was tien jaar lank Snyman se hoof by Huisgenoot.

Snyman het Kemp nie een keer tydens sy siekte hoor kla nie.

“Hy was ongelooflik positief.”

Snyman vertel Kemp het altyd die telefoon geantwoord met “Kemp” en gegroet met “Oukei, die Here seën jou baai”.

“Hy het ons geleer hoe belangrik kontakte was en dat jy jou kontakte moet ‘warm’ hou.

Hy het belang gestel in mense,” het Snyman gesê.

“Franz Kemp was enig in sy soort. Vol s***t, vol liefde, hy het deur dik en dun by sy joernaliste en fotograwe gestaan.

“Die beste mens wat ek ooit geken het,” het die fotograaf, Nardus Nel wat saam met Kemp by Rapport en Huisgenoot gewerk het, gesê.

Kemp laat ook sy seun, Ewald, skoondogter Annelene en twee kleindogters, Annette en Estelle, agter.

Bron: Beeld (http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Veteraan-joernalis-Franz-Kemp-sterf-in-Jhb-20110306) (6 maart 2011)